Die Geskiedenis van Afrikaans: Van 1652 tot Vandag
Kanja van der Merwe
Gister was die amptelike herdenking van die erkenning van Afrikaans as ampstaal byna 'n eeu gelede in 1925. Hiermee 'n kort samevatting van die ontstaan van ons moedertaal.
Afrikaans soos ons dit vandag ken het tussen 1900 en 1930 ontwikkel, maar die oorsprong van die taal dateer terug na die koms van Jan van Riebeeck in 1652. Drie groepe Suid-Afrikaners het die Nederlands van die nedersetters begin aanleer, naamlik die slawe, die Khoisprekers en die vryburgers. Die vraag wat baie mense versuim om te vra, is watter soort Nederlands? Afrikaans het nie uit die deftige, gekultiveerde geskrewe Nederlands van die 17de eeu ontwikkel het nie, maar wel uit 17de-eeuse Hollandse seemanstaal.
50 jaar na Van Riebeeck se aankoms het drie variëteite van Afrikaans ontstaan: Kaapse Afrikaans (slawe), Oranjerivierafrikaans (Khoi) en Oosgrensafrikaans (veeboere).
- Kaapse Afrikaans is ’n baie lewenskragtige taal wat hoofsaaklik as ’n godsdienstaal in die Moslemgemeenskap gebruik is, wat woorde soos “geloofbarig” en “wysdom” laat ontstaan het. Maleis en Portugees het ook ’n groot rol in die vorming van hierdie variëteit gespeel, met woorde soos “tronk”, “piesang”, “tarentaal”, “baie” en “amper”.- Afrikaans is al teen die einde van die 18de eeu deur Kaapse Khoi-groepe gepraat. In Namibië is Afrikaans gebruik as moedertaal, handelstaal, regstaal, lingua franca en taal van onderwys en godsdiens. Griekwa-Afrikaans was die Khoi-Afrikaans in die Noord-Kaap, wat in amptelike dokumente gebruik is. Voorbeelde van Khoiwoorde en -konstruksies wat in Afrikaans voortleef, is “dagga”, “kierie” en dubbele ontkenning.- Oosgrensafrikaans is sedert 1836 deur nedersetters aan die ooskus van Suid-Afrika gepraat. Kontak met matrose het woorde soos “kombuis” in Afrikaans laat voortleef. Nasalering is ook ’n huidige kenmerk van die taal wat uit Oosgrensafrikaans spruit. Hierdie noordelike vorm van Afrikaans het die fonologiese, morfologiese en sintaktiese basis van Standaardafrikaans gevorm.
Die wordingsfase van Afrikaans behels veral die invloed van Maleis en Laag-Portugees as dominante verkeerstale van die slawe, wat die omvorming van Hollands tot Afrikaans-Hollands gebring het. Tot die einde van die 19de eeu was Afrikaans slegs ’n omgangs- en spreektaal ̶ Standaardafrikaans en die Afrikaanse skryftaal het teen die begin van die 20ste eeu begin ontwikkel. Tydens die standaardiseringsproses moes daar tussen konstruksies gekies word wat aan kunsmatige idees van “suiwerheid” voldoen het. Voldoende afstand is tussen Nederlands en Afrikaans geskep om Afrikaans as ’n afsonderlike, funksionele taal te erken.
Afrikaans se mylpale
- 1830: Die vroegste vorm van Afrikaans, geskryf in die Arabiese alfabet, begin in Moslemgodsdiensskole in Kaapstad gebruik word. - 1835: Die eerste pogings skop af om Afrikaans te standaardiseer.- 1861: Die eerste Afrikaanse boek word deur Louis Henri Meurant geskryf.- 1875: Die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) word in die Paarl gevorm ten doel om ’n vertaling van die Bybel vir sprekers van Kaapse Afrikaans te verskaf.- 1914: Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK) begin Afrikaanse spelling standaardiseer.- 1917: Die eerste uitgawe van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS) word uitgebring.- 1925: Afrikaans kry status as ampstaal van Suid-Afrika.- 1926: Die eerste uitgawe van die Woordeboek van die Afrikaanse taal (WAT) verskyn.- 1965: Die eerste uitgawe van die Handwoordeboek van die Afrikaanse taal (HAT) verskyn.
Wat ons hedendaags as Standaardafrikaans herken, is ’n konstruksie wat ons aan taalentrepreneurs te danke het. Vandag is Afrikaans ten volle gestandaardiseer en kan in beginsel op alle kultuurterreine soos die reg, die onderwys, die wetenskap en die media aangewend word!