Terug na Artikels
Nuus

Huis Lucy: StudentePlein se historiese kantoor in Stellenbosch

Webblad Outeur18 February 20212 min lees

Kanja van der Merwe

Huis Lucy is diep ingewortel in die geskiedenis van Stellenbosch en dateer uit die vroeë 18de eeu. Dit was oorspronklik in 1814 gebou om as ’n koetshuis te dien, maar ongeveer ’n eeu later het die gebou status as die eerste dameskoshuis van Universiteit Stellenbosch verwerf toe die Universiteit uiteindelik aansoeke van vrouestudente aanvaar het. Die destydse eienaar wat in 1920 haar deure vir vrouestudente oopgemaak het, was mev Lucy le Roux, Maties se heel eerste koshuismoeder! Volgens Afrikaanse digter en skrywer Hennie Aucamp was Lucy “’n toonbeeld van gekonsentreerde Bolandsheid en ouwêreldse sjarme”.

StudentePlein sien uit daarna om ons lede binnekort op sonnige Stellenbosch te verwelkom. Ons beplan om verskeie verkenningsgeleenthede by ons kantoorblok in die middedorp te reël. Ons werkspasie vorm deel van die historiese nasionale monument genaamd Huis Lucy, Dorpstraat 99.

Stellenbosch is die tweede oudste stad in ons land, wat in 1679 deur Kaapse goewerneur Simon van der Stel gestig is. Dit is die tuiste van ’n handjievol spogvoorbeelde van Kaaps-Hollandse, Georgiese en Victoriaanse argitektuur. Huis Lucy is ’n klassieke en tydlose toonbeeld van die Georgiese styl van daardie tydperk. Vele eietydse en opvallende kenmerke van die huis is nog steeds in plek, insluitend die oorspronklike Oregon-dennehoutvloere, die groot skuifvensters en hemelhoë houtplafonne, en ’n ou, skaduryke eikeboom by die voordeur.

Die sentrale ligging maak Huis Lucy ideaal vir verskeie doeleindes. Met 11 kamers is die gebou vandag ’n kantoorblok op die eerste vloer sowel as ’n woonstelblok op die tweede vloer. Die derde vloer is ’n oop dak met asemrowende uitsigte oor ons pragtige Stellenbosch. Ons is bevoorreg om die spasie te kan benut en dit met ons lede te kan deel.

Deel hierdie artikel

Ondersteun ons werk

Help ons om meer meer en beter te doen.