Terug na Artikels
Person working on computer
Nuus

LeerNet KI: Toetsfase ‘n reuse sukses

16 February 20263 min lees

LeerNet KI gebruiker

StudentePlein se LeerNet KI-platform se toetsfase was 'n klinkklare sukses.

Gedurende November 2025 het 25 studente uit uiteenlopende studierigtings aan die toetsfase van die unieke LeerNet Ki-platform deelgeneem.

Die doel was om vas te stel of 'n KI-stelsel in Afrikaans werklik akademiese waarde toevoeg wanneer studiemateriaal oorwegend slegs in Engels beskikbaar is.

Huidige stand van LeerNet KI

LeerNet KI beskik tans oor 46 modules met aktiewe agente. Studente kan vrae oor hierdie modules in Afrikaans stel en binne sekondes brongebaseerde antwoorde in Afrikaans ontvang — selfs waar die inhoud oorspronklik net in Engels beskikbaar gestel is.

Uit die toetsfase het verskeie modules as besonder gewild na vore getree, onder meer:

- Ekonomie (eerstejaar)
- Sielkunde (derdejaar)
- Statistiek (tweedejaar)
- Besigheidsbestuur (eerstejaar)
- Belasting (tweedejaar)

Hierdie verspreiding oor studiejare en vakgebiede bevestig dat die behoefte aan Afrikaanse akademiese verwerking nie tot 'n enkele fakulteit beperk is nie. 'n Verdere 21 modules se handboeke is vroeg in 2026 ingesamel om die databasis doelgerig uit te brei.

Hierdie uitbreiding fokus spesifiek op modules wat hoog in aanvraag is en studierigtings waar Afrikaanse ondersteuning histories beperk was.

Die databasis waarop LeerNet KI steun, bestaan uit 'n gestruktureerde kombinasie van:

- Voorgeskrewe handboeke (primêre bronne)
- Moduleraamwerke
- Studienotas
- Akademiese artikels
- Lesingsopsommings

'n Belangrike kenmerk van die projek is datagedrewe ontwikkeling: terugvoer uit die toetsfase word sistematies ontleed en direk aangewend om die stelsel te verfyn.

Elke fase van gebruik lei sodoende tot meetbare verbetering in akkuraatheid, formulering en bronintegrasie.

Vooruitsig

Die beplanning is om LeerNet KI gedurende 2026 vir 'n groter studentebasis beskikbaar te stel en die aantal modules verder uit te brei.

Die fokus bly op gehalte, betroubare bronne en akademiese toepaslikheid.

Wat as 'n tegnologiese antwoord op verengelsing begin het, ontwikkel nou tot 'n volhoubare model waarin taal nie 'n struikelblok vir begrip is nie.

Die doel is om studente toe te rus om hul studiemateriaal sistematies te verwerk, konsepte deeglik te verstaan en met selfvertroue in Afrikaans te kan presteer.

Terugvoer van studente

Die eerlikste maatstaf van sukses is die studente se eie ervaring. Terugvoer uit die toetsfase sluit die volgende in:

> "LeerNet is baie goed daarmee om vir jou 'n presiese antwoord te gee oor byvoorbeeld die verskil tussen regsterme soos wat in 'n eksamen verlang sal word. Dit gee ook maklike, praktiese voorbeelde wat die konsep of term makliker maak om te verstaan."

> "Ek hou baie van die feit dat die KI bronne by die antwoorde sit as jy dit later self wil gaan opsoek of verder lees." "Die inligting is van goeie gehalte."

> "Werk goed — kon toetsvrae beantwoord en opsommings maak."

> "Ek dink dit sal my volgende jaar baie help om leerplanne prakties op te stel."

Hierdie terugvoer bevestig dat LeerNet KI 'n praktiese akademiese ondersteuningstelsel is wat werklik waarde toevoeg.

Met 'n groeiende databasis, aktiewe modules en 'n duidelike uitbreidingsplan vir 2026 beweeg LeerNet KI nou uit die toetsfase na 'n gevestigde akademiese hulpmiddel wat op skaal deur studente ingespan kan word.

Deel hierdie artikel

Ondersteun ons werk

Help ons om meer meer en beter te doen.