Padelkoors tref StudentePlein: Groot houe en lekker draaie by die padeltoernooi en sokkie
Padelkoors het StudentePlein op 6 Augustus behoorlik beetgepak toe 16 spanne die baan by ClubPadel (Stellenbosch) aangedurf het vir StudentePlein se eerste mededingende padeltoernooi. Wat as ’n aand van kompetisie begin het, het later om die draai op die dansvloer voortgegaan met ‘n sokkie.
Meer as net ’n sosiale potjie
Padel is nie heeltemal nuut op StudentePlein se kalender nie. Hoewel daar in die verlede reeds padelgeleenthede aangebied is, was dié keer nie nét ’n sosiale geleentheid nie. Vir sommige spanne was dit ernstige sake, met goeie pryse én spogregte op die spel. Altesaam 16 spanne, het deelgeneem, met toeskouers langs die baan om hul gunsteling spanne aan te moedig. Daar was ook genoeg om voor te speel. Die pryspoel het onder meer KNOX-merch, VIP-kaartjies na Oes en Vlamfees, Java-geskenkbewyse, Crème-roomysgeskenkbewyse, sportmasseringsgeskenkbewyse, ’n danslesgeskenkbewys, Van Loveren-wyngeskenkpakke, padelballe, StudentePlein-merch, SciCore Hydration-soute en ’n ClubSweat-lidmaatskap ingesluit. Ná ’n aand van sterk mededinging het Die Eiffels uiteindelik die ander spanne uitgestof en met die eerste plek weggestap.
Van groot houe na lekker draaie
Die laaste punt op die padelbaan het egter nie die einde van die aand beteken nie. Ná die toernooi het die studente om die draai van Club Padel na Smokey G Smokehouse beweeg. Hier kon studente nie net saam sokkie nie, maar ook leer sokkie of hul bestaande sokkievaardighede na die volgende vlak neem. Dit het gesorg vir ’n lekker kombinasie van kompetisie en kuier: eers die rakette op die padelbaan en daarna die dansskoene op die dansvloer.
Wanneer maak ons weer so?
Met minstens 80 studente wat deur die loop van die aand deel van die padeltoernooi en sokkie was, onder meer 32 spelers wat op die baan meegeding het, en toeskouers wat hul gunstelingspanne aangemoedig het, was die aand ’n groot sukses. Navrae oor wanneer die volgende een plaasvind, het boonop reeds begin instroom.
Die vraag “Wanneer maak ons weer so?” wys egter op iets groter as net die sukses van een aand. Dit bevestig die behoefte aan geleenthede waar studente in Afrikaans kan saamkom, deelneem en nuwe mense ontmoet. Geleenthede soos die padeltoernooi en sokkie skep juis ’n ruimte waar Afrikaans nie net gepraat word nie, maar deel vorm van ’n lewendige en inklusiewe studente-ervaring.
Vir StudentePlein gaan dit daarom oor meer as net padel of ’n lekker sokkie. Dit gaan oor die skep van geleenthede waar studente deur Afrikaans, gedeelde ervarings en ’n bietjie gesonde kompetisie deel van ’n groter studentegemeenskap kan voel.
As die eerste een enige aanduiding is, het StudentePlein se padeltoernooi dalk pas ’n nuwe plek op die studentelewe-kalender losgeslaan.
Hou StudentePlein se platforms dop vir die volgende een.