Terug na Artikels
Pizza, wyn en planne: PleinRaad-leierskorps skop met energie en visie af
NuusImpak

Pizza, wyn en planne: PleinRaad-leierskorps skop met energie en visie af

Webblad Outeur28 July 20253 min lees

24 Julie 2025 | StudentePlein-kantoor, Stellenbosch

Op ’n koue wintersaand in Julie is ’n nuwe hoofstuk vir Afrikaanse studenteleierskap op Stellenbosch geopen. Met pizza, ’n glasie wyn en die opgewondenheid van nuwe idees, het die eerste PleinRaad-leierskorps by StudentePlein se kantoor vir hul amptelike openingsaand saamgetrek. Hierdie aand van saamkuier, gesels en toekomsdrome het nie net ’n ruimte vir spontane gesprekke geskep nie, maar ook die grondslag gelê vir wat beloof om ’n betekenisvolle en impakvolle tweede semester vir Afrikaanse studente te wees.

PleinRaad is meer as net nog ’n studenteprojek – dit is ’n leierskapstruktuur wat studente in staat stel om in hul moedertaal en binne ’n ondersteunende netwerk leiding te neem, kulturele ruimtes te bou en aktief deel te neem aan die vorming van kampuskultuur. Die leierskorps is uit vier fokusareas saamgestel, elk met hul eie komitee. Op die aand is die amptelike bekendstelling van hierdie komitees gevier en is daar openlik gesels oor die visie en doelwitte van elke raad.

Die Akademieraad, bestaande uit Anmari Bruwer, Dale Arendse, Ineke Strydom en Emma Basson, bring ’n passie vir leer, onderrig en ondersteuning na die tafel. Hulle is vasbeslote om akademiese sukses binne die Afrikaanse studentegemeenskap te bevorder. Die Mediaraad, bestaande uit Denise Meyer, Alicia van der Merwe, Ann-Luméy Pieterse, Patricia Potgieter, Ans Tshilumbu en Lisa Bezuidenhoud het hul kreatiwiteit en digitale vaardighede saamgebring om StudentePlein se visuele stem verder te versterk. Op sosiale vlak neem Cara Reyneke, Lisa Bezuidenhoud en Denise Meyer leiding binne die Sosiale raad – met planne vir nuwe geleenthede en studentevieringe wat reeds begin posvat. Die Debatraad, saamgestel uit Cara Reyneke, Braam Greeff, Heinrich de Villiers, Dirk Hagen, Dirkie Aldrich, Kristo Voulgarelis en Jeandré du Preez, is gereed om intellektuele gesprekke en meningsvorming op kampus aan te wakker en StudentePlein se sterk debatvereniging verder uit te bou.

Die aand het nie slegs oor formele bekendstellings gegaan nie; dit was ook ’n ruimte waar daar gelag, idees uitgeruil en verhoudinge gebou is. ’n Sokkie is reeds in die pyplyn, nuwe geleenthede is bespreek en daar is opregte opgewondenheid oor wat voorlê. Vir baie van die komiteelede was dit die eerste keer dat hulle mekaar in persoon ontmoet het en die kameraadskap was tasbaar. Daar is gesels oor verwagtinge, moontlikhede en hoe elkeen se unieke bydrae die groter prentjie van PleinRaad sal versterk.

PleinRaad bied nie net leierskapgeleenthede nie – dit skep ’n ruimte waar studente hulself kan uitleef, hul taal kan koester en hul gemeenskap kan dien. Hierdie eerste aand was die begin van ’n beweging: jong mense wat kies om betrokke te raak, wat verantwoordelikheid aanvaar en wat doelbewus bou aan ’n kampuskultuur waarin Afrikaans nie net oorleef nie, maar floreer.

Deel hierdie artikel

Ondersteun ons werk

Help ons om meer meer en beter te doen.