StudentePlein se OpSkop!-sokkies hou Afrikaanse sokkietradisie springlewendig
StudentePlein se OpSkop!-sokkies hou Afrikaanse sokkietradisie springlewendig
StudentePlein het weereens bewys dat die Afrikaanse sokkietradisie op Stellenbosch springlewendig is toe sowat 200 studente op 15 Oktober by Middelvlei Wynlandgoed saamgekom het vir die vyfde Opskop!-sokkie. Met die Afrikaanse sensasie Tino op die verhoog, was dit ’n aand van musiek, dans en lekker saamkuier.\
\
Tino se optrede was boonop ’n besonderse volsirkeloomblik, aangesien hy ook by StudentePlein se heel eerste Opskop!-sokkie in 2023 opgetree het. Dié geleentheid het studente die kans gebied om die akademiese druk vir ’n aand opsy te skuif, nuwe vriendskappe te smee en die Afrikaanse studentelewe behoorlik te vier.
Die sokkie laat studente vra vir nóg
StudentePlein se Opskop!-sokkies het intussen ’n vaste plek in die Stellenbosse studentelewe verwerf. Die volgehoue belangstelling bevestig die vraag na Afrikaanse sosiale geleenthede waar studente kan saamkuier, nuwe vriendskappe smee en die sokkietradisie laat voortleef. Die entoesiasme waarmee studente die geleentheid ontvang het, het ook ná die laaste dans voortgeduur. Een lid se terugvoer som die aand besonder goed op: “StudentePlein moet asb. meer Opskop!-sokkies hou!” Ander deelnemers was dit eens dat die aand een vir die boeke was. Vanaf reaksies soos “Was ’n absolute fees!” tot “Wat ’n jol! Dis hoe dit moet lyk om ’n jongmens te wees!” het die terugvoer behoorlik van geesdrif getuig. Selfs die vraag “Dieselfde tyd en plek volgende jaar?” het reeds opgeduik, terwyl ’n ander deelnemer StudentePlein bedank het vir die geleentheid: “Julle hou my jonk! Dankie vir julle moeite om sulke geleenthede te skep.” Tino het ook sy waardering uitgespreek: “Julle rock! Dankie vir alles en almal!”
’n Blywende bydrae tot die Afrikaanse studentelewe
Deur geleenthede soos die OpSkop!-sokkies te skep, bevestig StudentePlein sy rol in die bevordering en uitbouing van die Afrikaanse studentelewe op Stellenbosch. Die volgehoue belangstelling en entoesiastiese terugvoer van lede beklemtoon die waarde van StudentePlein se bydrae tot ’n lewendige en inklusiewe Afrikaanse studentegemeenskap. As hierdie terugvoer enige aanduiding is, is een ding seker: StudentePlein se lede is nog lank nie klaar opgeskop nie!