
StudentePlein skop 2025 met 'n knal af met reeks sosiale geleenthede
Op 21 Januarie het StudentePlein op versoek van verskeie koshuise op die Stellenbosch-kampus 'n padeltoernooi gereël. Na die groot sukses van laasjaar se padeltoernooie, waar studente in Afrikaans kon kuier en netwerk, was die aanvraag net nóg groter.
Die HK's van agt koshuise, insluitend Helderberg, Isa Dameskoshuis, Dagbreek, Lydia, Minerva, Huis ten Bosch en selfs Huis Francie van die Tygerberg-kampus, het die geleentheid bygewoon by Club Padel. Koshuise kon vir pret teen mekaar meeding en hierdie sukses het gelei tot verskeie versoeke om in 2025 nog meer Afrikaanse sosiale geleenthede aan te bied. Die padel was in samewerking met Stellies Blue Bottle en Middelvlei Wynlandgoed aangebied, wat dit 'n topklas ervaring gemaak het.
Kort ná die padel is 'n spesiale Valentynsdagkompetisie, in samewerking met Middelvlei geloods, waar 'n wynvermengingservaring-geskenkpak ter waarde van R2000 weggegee is. Dit was net die begin van 'n maand vol energieke aktiwiteite!
Op 14 Februarie het die StudentePlein-span die dag as 'n geleentheid gebruik om op 'n informele manier ons organisasie aan studente bekend te stel, deur bemarking op kampus. Die aand het ons ook saam met Dagbreek Manskoshuis 'n Valentynsdag-sokkie aangebied. Dit was 'n reuse sukses met ongeveer 300 studente wat die dansvloer behoorlik laat bewe het. Die atmosfeer was ongelooflik en dit was duidelik dat studente na nog meer sulke geleenthede uitsien.
Kort ná die sokkie was StudentePlein weer besig, hierdie keer by Middelvlei vir 'n Raakrugbytoernooi in samewerking met AfriForum-Jeug, Middelvlei en Stellies Blue Bottle. Ten spyte van ander groot sosiale geleenthede op die dorp, insluitend die bekende Simonsberg Met, was die raakrugby 'n reuse sukses met sowat 300 deelnemers en toeskouers. Dertien spanne het mekaar die stryd vir groot pryse aangesê, maar die grootste prys bly natuurlik: wie die baas is! StudentePlein het twee spanne ingeskryf en StudentePlein 1 het met die eerste prys weggestap. Al het ons dit nie so beplan nie, is daar langs die veld gedans, gekuier en gelag – 'n perfekte afsluiting vir 'n opwindende maand.
StudentePlein het die jaar met 'n knal begin en studente 'n veilige Afrikaanse sosiale omgewing gebied, maar nou is dit tyd om ook op akademie te fokus. Ons sien uit na 'n jaar wat nuwe akademiese verwikkelinge vir StudentePlein-lede inhou. Hou gerus ons webblad dop vir opwindende nuus en aankondigings!