StudentePlein-sokkie bring drie Afrikaanse studenteorganisasies en 300 studente bymekaar
StudentePlein het op 13 Maart saam met US-Berg, Toer- en Stapklub (BTK) en Stellenbosch Landbou ’n sokkie op die tennisbane by Elsenburg aangebied wat ongeveer 300 studente gelok het. Die geleentheid het studente vanuit verskillende kampusgemeenskappe die geleentheid gebied om in ’n ontspanne en gesellige omgewing saam te kuier, nuwe vriendskappe te vorm en deel te wees van die kampuslewe buite die lesingslokaal – in Afrikaans.
Die sterk bywoning het opnuut bevestig dat daar ’n behoefte bestaan aan sosiale geleenthede waar studente op ’n veilige en toeganklike wyse in Afrikaans kan ontspan en met mekaar kan skakel. Deelnemers het die aand gebruik om te dans, te gesels en die gemeenskap wat deur die verskillende organisasies geskep is, te geniet.
Vir StudentePlein vorm sulke geleenthede ’n belangrike deel van die studente-ervaring. Hoewel akademiese ondersteuning steeds ’n kernfokus bly, is die skep van ruimtes waar studente kan behoort en betekenisvolle verhoudings kan bou, net so belangrik. Sosiale geleenthede dra nie net by tot studente se welstand nie, maar versterk ook die gevoel van gemeenskap op kampus.
StudentePlein sien daarna uit om voort te bou op die sukses van die aand en om deur toekomstige samewerkings nog meer geleenthede te skep waar studente veilig kan saamkom, kuier en die kampuslewe ten volle kan beleef.