StudentePlein wen nasionale Dink-of-Sink debatkompetisie
StudentePlein seëvier in landswye Dink-of-Sink onvoorbereide debatskompetisie
‘n Debatspan van StudentePlein het as oorwinnaars van AfriForum se jaarlikse Dink-of-Sink onvoorbereide debatskompetisie vir universiteitstudente weggestap. Die oorwinning volg op ‘n opwindende woordestryd en intellektuele kragmeting in die finale rondte van die kompetisie, waarin StudentePlein ‘n span van die Noordwes Universiteit verslaan het. Dit is ‘n verbetering op StudentePlein-spanne se deelname in 2022 by dieselfde kompetisie, waarin onderskeidelik ‘n tweede en ‘n vierde posisie behaal is.
Die Dink-of-Sink debatkompetisie vir universiteitstudente is ‘n belangrike geleentheid, aangesien dit die voorste georganiseerde nasionale universiteitsdebatkompetisie in Afrikaans in die land is. Dink-of-Sink is die natuurlike opvolger van die nasionale universiteitsdebatkompetisie wat voorheen deur die ATKV aangebied is, maar jare gelede gestaak is.
Die leemte op Stellenbosch
Die Universiteit Stellenbosch se studenteraadkomitee vir kultuursake, oftewel Kuko, het jare gelede ‘n besluit geneem dat die universiteit geen verdere deelname van Matie-studente aan Afrikaanse universiteitsdebatkompetisies sou aanmoedig, toelaat of befonds nie. Ná ‘n stryd tussen die universiteit en Afrikaanse studente oor die besluit, het die universiteit in 2017 toegegee om ‘n laaste Matie-debatspan se deelname aan Dink-of-Sink toe te laat. Daarna was daar geen amptelike deelname van Matie-studente in Dink-of-Sink nie. StudentePlein het egter oor die laaste paar jaar aan Afrikaanse studente wat in debat belangstel die geleentheid gebied om by StudentePlein se Afrikaanse debatsvereniging aan te sluit en plaaslik sowel as landswyd deel te neem.
Dink-of-Sink 2023
StudentePlein se voorste spanne het suksesvol by uitdunne van Dink-of-Sink meegeding met volgehoue goeie prestasie, en eindelik die eindrondtes van die kompetisie behaal.
Die finale rondte het op Saterdag 30 September 2023 by Akademia se Leriba-koshuis in Centurion plaasgevind. Finaliste van Akademia, Noordwes-Universiteit (NWU), asook die Universiteit van Pretoria (UP) en StudentePlein het teen mekaar in drie uitdundebatte meegeding.
Die Britse parlementêre debatstyl word by Dink-of-Sink gevolg en studente neem in spanne van vier elk deel. Spanne ontvang die onderwerp en het dan een uur om voor te berei, alvorens dit vir die beoordelaars aangebied word om te bepaal watter span kan dínk en watter een moet sínk.
Die debat in die laaste rondte het gehandel oor ’n fiktiewe scenario – die meriete van die inlywing van Walvisbaai by Suid-Afrika. Aspekte waaroor die debatspanne swaarde gekruis het, is die ekonomiese impak daarvan op beide lande, asook die bevordering van toerisme en norme van die internasionale reg. StudentePlein is verteenwoordig deur Chris Briel, Henri van der Westhuizen, Ernst Pieterse en Adriaan van Wyk. NWU se span het bestaan uit Reuben Coetzer, Jaco Mulder, Estiaan Vorster en Pieter Booysen.
StudentePlein se span het as oorwinnaars weggestap.
Die span
Lede van StudentePlein se debatspan, bestaande uit ervare debatteerders wat reeds van skooldae af uitblink, het hul dankbaarheid uitgespreek vir die geleentheid om teen gedugte opponente op die landswye verhoog te kon meeding. Die atmosfeer by die kompetisie is gekenmerk deur wedersydse ondersteuning, respek en samewerking tussen verskillende deelnemers en organisasies. Henri van der Westhuizen, een van die vier wenspan-lede, het die belang van die geleentheid om in sy moedertaal te kon redeneer en dink oor aktuele kwessies, beklemtoon. Van der Westhuizen het die spandinamika en spanwerk uitgewys as 'n kardinale aspek van die kompetisie. Hy kon deurgaans op sy spanmaats staatmaak en die vertroue tussen hulle het uiteindelik die weg gebaan tot die eerste plek op die podium.
Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum wat die finaal bygewoon het, gee dit ’n mens moed om hierdie jongmense te sien debatteer. “Hulle vergestalt wat ons juis met die kompetisie probeer bereik, naamlik dat die jeug leer om hulle standpunte op duidelike, weldeurdagte wyse te kan stel en dit met selfvertroue te motiveer, terwyl hulle ook op hoogte van aktuele sake bly.”
Die impak
Die Universiteit Stellenbosch moedig nie meer deelname aan Afrikaanse debat aan nie en laat ook nie spanne toe om onder Maties se vaandel aan landswye Afrikaanse debat deel te neem nie. StudentePlein vul die leemte aan. StudentePlein fasiliteer Afrikaanse debat in Stellenbosch, voorsien spanne met al die nodige toebehore en verseker hul deelname op die landswye verhoog.
Kompetisiedatums vir 2024 se kultuurkalender
- NWU uitdunrondte – 6 April 2024
- Akademia uitdunrondte – 20 April 2024
- StudentePlein uitdunrondte – 11 Mei 2024
- Finaal in Montana, Pretoria – 6 Julie 2024