StudentePlein werf vyftig nuwe Maties by Societies Fair
StudentePlein het op 2 Februarie 2024 gesig gewys by die Universiteit Stellenbosch se “Societies Fair”. Alhoewel StudentePlein op geen wyse aan die US verbonde is of daar as ‘n vereniging geregistreer is nie, is die oorgrote meerderheid van nuwe jaarlike StudentePlein-lede Matie-studente.
Die “Societies Fair” is daarom ‘n goeie geleentheid om StudentePlein se waardeaanbod aan moontlike nuwe lede te bemark. By die geleentheid was vele stalletjies wat aan eerstejaarstudente inligting verskaf het, vanaf rofstoei, bergklim, kunsklasse en vele meer. StudentePlein het ‘n prominente stalletjie opgerig en dosyne nuwe eerstejaars aangesluit. Dit het duidelik geblyk dat vele nuwe Maties reeds opsoek was na ‘n Afrikaanse tuiste, wetende dat sosiale en akademiese geleenthede by die US in Engels plaasvind. Nuwe lede kon dus kennis maak met die verskeidenheid aktiwiteite wat StudentePlein aanbied as ‘n Afrikaanse alternatief tot verengelsde kampuslewe.
StudentePlein kon op die geleentheid nagenoeg 50 nuwe lede werf.