Terug na Artikels
Verwelkomingsweek 2026
Impak

Verwelkomingsweek toon voortgesette behoefte aan Afrikaanse gemeenskap op kampus

18 June 20263 min lees

StudentePlein het gedurende die Universiteit Stellenbosch se Verwelkomingsweek, wat van 26 Januarie tot 7 Februarie plaasgevind het, aktief betrokke gebly by verskeie kampusaktiwiteite. Die doel was om nuwe studente aan die organisasie bekend te stel, bestaande verhoudinge met koshuise te versterk en die sigbaarheid van Afrikaanse studente-aktiwiteite op kampus uit te brei.

Verskeie koshuise het StudentePlein genader om tydens Verwelkoming by hul programme betrokke te raak. Daarbenewens het StudentePlein ook proaktief na ongeveer 20 koshuise uitgereik om samewerkingsgeleenthede te ondersoek en met studente in gesprek te tree oor die organisasie se werksaamhede.

Gedurende hierdie tydperk het StudentePlein onder meer Harmonie, Irene Dameskoshuis, Huis Visser en Helderberg Manskoshuis besoek. Op 5 Februarie is daar ook saam met Eendrag Manskoshuis en Minerva ’n sokkie en verskeie spanaktiwiteite, waaronder krieket, aangebied. Hierdie geleenthede het nie net eerstejaars bereik nie, maar ook talle senior studente wat reeds gevestig is binne die koshuisgemeenskappe.

Die terugvoer uit hierdie besoeke was oorwegend positief. Ongeveer 20 eerstejaarstudente het gedurende die verwelkomingsperiode onmiddellik by StudentePlein aangesluit, terwyl verskeie ander studente verdere navrae gedoen en belangstelling in toekomstige betrokkenheid uitgespreek het.

Wat besonder opvallend was, is dat die belangstelling nie beperk was tot nuwelinge nie. Ook senior studente het aktief met StudentePlein in gesprek getree oor die behoefte aan meer Afrikaanse sosiale en kulturele ruimtes op kampus. Hierdie reaksie bevestig dat die behoefte aan gemeenskappe waar studente hul taal en kultuur vrymoedig kan uitleef, steeds sterk bestaan.

Hierdie belangstelling het reeds tot verdere samewerking gelei. Op 16 Februarie het StudentePlein ’n burgeraand met die huiskomitees van verskeie koshuise aangebied om te bespreek hoe sosiale geleenthede op kampus gedurende 2026 herleef kan word. Ten spyte van die uitdagings en teenkanting wat vanuit die Universiteit ervaar word, is die inisiatief reeds goed ontvang. Gesprekke met koshuise is aan die gang, met die doel om studente meer geleenthede te bied om buite die klaskamer met mekaar te skakel en deel te vorm van ’n lewendige kampusgemeenskap.

Die belangstelling vanuit die koshuise en studente bevestig dat daar steeds ’n duidelike behoefte bestaan aan geleenthede wat gemeenskap, kultuur en sosiale betrokkenheid bevorder. Vir StudentePlein is dit ’n belangrike herinnering dat Afrikaanse studente nie net akademiese ondersteuning benodig nie, maar ook ruimtes waar hulle kan behoort, vriendskappe kan vorm en hul studente-ervaring ten volle kan uitleef.

Met die akademiese jaar wat nou behoorlik aan die gang is, sien StudentePlein daarna uit om hierdie samewerking verder uit te bou en voort te gaan om betekenisvolle geleenthede vir Afrikaanse studente op kampus te skep.

Deel hierdie artikel

Ondersteun ons werk

Help ons om meer meer en beter te doen.